Afrikaans

Seleka rebelle beset hoofstad van Sentraal Afrikaanse Republiek

Op Maart 23-24 het Seleka, ‘n koalisie van rebelle-groepe in die Sentraal Afrikaanse Republiek (SAR) beheer oorgeneem van die hoofstad Bangui, na afloop van ‘n reeks aanvalle wat verlede Desember begin het.

Seleka het die volgende stelling uitgereik nadat hulle die stad ingeneem het: “Die Sentraal Afrikaanse Republiek het pas ‘n nuwe bladsy in hul geskiedenis oopgemaak … Die politieke komitee van die Seleka koalisie, wat saamgestel is uit Sentrale Afrikane van alle agtergronde, doen ‘n beroep op die bevolking om kalm te bly en om voor te berei om die rewolusionêre magte van Seleka te verwelkom.” Die rebelle se besluit om Bangui te beset kom te midde van Franse pogings om ‘n nuwe politieke bedeling in die land teweeg te bring.

Plundery is gerapporteer in Bangui en basiese dienste, water en elektrisiteit funksioneer nie.

Eric Massi, ‘n Europese verteenwoordiger vir Seleka, het gesê die alliansie beplan om oor drie jaar verkiesings te hou, wanneer die situasie gestabiliseer het. “Ons doel is nie om ‘n streng sperdatum daar te stel nie, maar om ‘n roete te vestig wat die gees van die ooreenkoms wat in Libreville onderteken is, en ‘n terugkeer na demokrasie, respekteer,” het Massi beweer.

Thierry Vircoulon, projek-direkteur vir sentraal Afrika by die International Crisis Group het sy skeptisisme uitgespreek oor die vermoë van Seleka om die land oor te neem: “Dit illustreer duidelik waar die ware mag binne Seleka geleë is: Die militêre bevelhebbers domineer die politieke leierskap,” sê hy. “Dit is ‘n bron van kommer want Seleka het nie ‘n politieke program of selfs eers die eerste bladsy van ‘n politieke program nie.”

President Francois Bozize – wat mag oorgeneem het met ‘n militêre staatsgreep in Maart 2003 met hulp van die weermag van naburige Chad, en toe presidensiële verkiesings in 2005 en 2011 gewen het – het na Kameroen gevlug.

Seleka het ‘n nuwe president, Michel Djotodjia, genomineer om sy plek in te neem. Rebelle vegters het Saterdag in Bangui inbeweeg, en het sedertdien met die SAR en Suid-Afrikaanse magte gebots. Ten minste 13 Suid-Afrikaanse soldate is in die gevegte dood en nog 27 beseer. Die Suid-Afrikaanse weermag het gereageer met ‘n stelling dat Suid-Afrikaanse magte in die Sentraal Afrikaanse Republiek sal bly.

Oor die laaste aantal maande het die Seleka aanval 200 000 vlugtelinge geforseer om hul huise te verlaat, volgens die VN se Kantoor vir die Koördinasie van Humanitêre sake. Die Los Angeles Times het Maandag geskryf dat daar verskeie menseregte skendinge was sedert Seleka oorgeneem het, insluitend verkragtings en moord. Twee Indiese burgers is oor die naweek gedood en 6 gewond in botsings by die Bangui lughawe.

Die sosiale ontwrigting wat deur die vegtery veroorsaak word is veral verwoestend vir lande soos die SAR wat - tesame met Mali, nog ‘n onlangse teiken van Franse militêre agressie – een van die armste lande ter wêreld is. Die SAR is 178ste uit 179 geplaas in die Verenigde Nasies se menslike ontwikkelingsindeks (MOI), wat die lengte en kwaliteit van lewe, beskikbaarheid van kennis en lewensstandaarde meet.

Lewensverwagting in die SAR is 48 jaar, en die gemiddelde burger ontvang 3.5 jaar van opvoeding. Twee derdes van SAR se inwoners leef onder die broodlyn, op minder as $1.25 per dag.

Boris Varnitzky, direkteur van die Internasionale Reddingskomitee se pogings in die SAR, het gesê: “Die vele bedreigings van mense se lewens en veiligheid, en die gebrek aan die mees basiese dienste, het ‘n kommerwekkende humanitêre krisis in die Sentraal Afrikaanse Republiek geskep wat onmiddellike aandag en langtermyn hulp verg. Wanneer mens na die land se basiese sosiale en ekonomiese aanwysers kyk, besef mens vinnig dat mense hier in baie gevalle slegter daaraan toe is as mense wat in bekender krisis gebiede soos Darfur en die oostelike Kongo woon.”

Parys en Washington het die oorname deur die rebelle gesteun, maar Parys het vroeër vredespraatjies tussen die rebelle en die regering in Januarie gesteun.

Victoria Nuland, ‘n woordvoerder van die VSA se Departement Buitelandse Sake het ‘n beroep gedoen op die Seleka leierskap “om wet en orde in die stad te vestig en om basiese dienste te herstel” in Bangui. Sy het Seleka aangemoedig om leiers van Chad en Kongo te nader om na ‘n politieke oplossing te soek.

In Desember 2012 het die Franse President Francois Hollande begin om te weier dat die 250 Franse troepe wat by Bangui lughawe gestasioneer was, ontplooi word om die regime teen die rebelle te beskerm, en het op siniese wyse verklaar dat die troepe “geensins in interne sake mag inmeng nie.”

Om die waarheid te sê, dit was ‘n merkbare skuif in Frankryk se beleid van 2006 en 2007, toe dit herhaaldelik teen rebelle magte opgetree het om die regime te beskerm met die insluiting van lugaanvalla.

Effektief het Parys nou sy gewig gegooi agter die Seleka rebelled. Hollande het Seleka aangemoedig “om kalm te bly” en ‘n “regering van nasionale eenheid” te vorm. Frankryk het ‘n addisionele 100 troepe na Gaboen ontplooi en 200 meer om aan te sluit by die 250 wat reeds in die SAR gestasioneer is.

Die skielike skuif deur die imperialistiese magte om Seleka se magsoorname te steun kom te midde van toenemende neo-kolonialistiese intervensies in die streek. Franse en Chad magte veg in noord Mali, met hulp van Washington – wat VSA Reaper drone ontplooi het om die Franse inval te steun. ‘n Nuwe droon basis en 100 VSA troepe is in Niger ontplooi, met nog honderde om te volg. Chad se spesiale magte, wat deur die VSA se Green Berets opgelei is, is bedrywig dwarsdeur die streek.

Deur die uitskop van Bozize te steun, poog die VSA en Frankryk om hul belange te bevorder teen die invloed van Sjina. Diplomatieke VSA boodskappe wat deur WikiLeaks gepubliseer is, was besorg oor Sjina se groeiende strategiese teenwoordigheid in die SAR. Een boodskap, met die titel “Groeiende Sjinese invloed in die SAR duidelik”, was bekommerd daaroor dat 40 militêre offisiere van die SAR opleiding in Sjina ontvang, in vergelyking met net twee of drie in die VSA.

Die SAR is ryk aan goud, diamante, uraan en hout, en enige Sjinese invloed is onaanvaarbaar vir Amerikaanse imperialisme. Dieselfde boodskap het verwys na imperialistiese belange agter die Franse en Amerikaanse intervensie: “Met Franse beleggings sterwend en ‘n algemene afname in Franse invloed, posisioneer Sjina homself waarskynlik as die SAR se vernaamste weldoener in ruil vir toegang tot die SAR se ruim bronne van uraan, goud, diamante, en moontlik olie.”

Die kabel waarsku dat Bozize “verwelkom die verhouding as ‘n alternatief tot die meer beperkende verhoudinge met die Franse en die Weste” en sal “die Sjinese toenemend omarm as ‘n alternatief tot die Franse en ander Westerse weldoeners.”

Loading