Vakbonde en die politieke establishment is desperaat om beheer te kry oor ‘n golf stakings wat regoor die land uitgebreek het en wat van die platinum bedryf en goudmyne tot die vervoer en motorvervaardigingsbedryf uitgebrei het.
Op Vrydag het Anglo American Platinum (Amplats), die wêreld se grootste platinum produsent, 12 000 werkers afgedank wat in ‘n wildcat staking betrokke was. Dit was die eerste massa afdanking sedert die stakings in Augustus begin het. Saterdag het Atlatsa Resources gesê hulle dank 2 500 stakende werkers af by hul Bokoni platinum myn. Die myn word ook deur Amplats besit.
Hierdie stappe wat op die onderdrukking van die mynwerkers gerig is val saam met die aankondiging deur COSATU dat hulle in verbinding wil tree en onderhandel met die mynwese se unie, die NUM. Die onderhandelinge is daarop gemik om die golf van stakings te bekamp, wat grotendeels buite die raamwerk van die amptelike unies plaasvind. Sowat 80 000 mynwerkers staak tans regoor die land.
COSATU se hoof geaffileerde unie is die NUM en die organisasie is ook ten nouste verbind met die ANC, Suid-Afrika se hoof politieke party van die heersende klas.
Die algemene sekretaris van COSATU, Zwelinzima Vavi het Vrydag tydens ‘n staking van mynwerkers in Carltonville gesê “ons sal nou na die voorgrond tree en sal die stryd van die mynwerkers lei. Hy het slegs nominale steun gegee aan die eise van die stakende werkers by Gold Fields, die wêreld se vierde grootste goudmynmaatskappy. Vavi het verlede week met Goldfields begin onderhandel om ‘n drie-weke lange staking deur 13 000 werkers te beëindig.
Indien die mynsektor meer soortgelyke wildcat stakings gaan verhoed moet daar onmiddellik met onderhandelinge begin word, het Vavi gesê. COSATU gaan vandag met verteenwoordigers van die Kamer van Mynwese ontmoet.
Vavi het rede tot kommer. Onder die impak van stygende klassestryde is die heerskappy van COSATU en ook die ANC besig om te verbrokkel. COSATU se betrokkenheid is egter nie om die mynwerkers se eise te verseker nie, maar om na die belang van die mynmaatskappye om te sien.
Die wildcat stakings by Amplats en ander myne was gekenmerk deur baie sterk negatiewe gevoelens jeens die NUM, en daar word gesê dat dié organisasie direk betrokke was by die skietvoorval by die Lonmin Marikana myn op 16 Augustus toe 34 mense dood is.
Volgens ‘n Reuters verslag wat Sondag gepubliseer is, het “die reels van die spel geheel en al verander en die nuwe spelers is mense soos Tshepo Modise en Thulani Soko, wildcat stakers by Amplats.”
Reuters haal Modise, die 30-jarige masjien operateur wat in ‘n woongebied langs die Amplats myn noordwes van Johannesburg woon, aan: “Ons wil nie meer om dieselfde tafel as die unies sit nie. Ons is deur hulle gesaboteer.”
Mynwerkers regoor die land het met hul huidige stryd begin vanweë swak lone en die feit dat daar groot vlakke van sosiale ongelykheid is. Die werkers is ook aangemoedig daardeur dat werkers by Lonmin ‘n 22 persent loonverhoging verkry het en dit kan tot ‘n sosiale ontloffing lei, wat die unies wil verhoed.
In reaksie op die massa-afdankings by Amplats het verteenwoordigers van die werkers gesê die stryd sal uitgebrei word. Volgens die mynwerker, Evans Ramokga, sal die maatskappy “oor ons dooie liggame” nuwe werkers in diens neem.
Die afdankings het ‘n dag nadat die polisie traangas en rubber-koeëls op vreedsame betogers gevuur het en een gedood is, gevolg. Die werker, die 48-jarige Mtshunquleni Qakamba, is klaarblyklik in die maag getref deur ‘n rubber-koeël.
‘n Verteenwoordiger van die stakende werkers het gesê hulle gaan vandag ‘n moordklag teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens indien.
George Tyobeka, ‘n verteenwoordiger van die werkers, het aan AFP gesê, “hulle het die mense geskiet tot hulle een van ons kollegas gedood het. Die werknemers het nie baklei nie, hulle het net op die koppie gesit”.
Ondertussen het 300 werkers van die Kumba Yster se Sishen myn ‘n wildcat sitstaking gehou en hierdie staking was ook buite die beheer van die NUM.
Behalwe die stakings in die mynsektor het die stakings ook die vervoerbedryf geraak, hoewel die meeste stakings in hierdie bedryf binne die raamwerk van COSATU geskied.
Sowat 20 000 vragmotorbestuurders in Johannesburg staak reeds vir twee weke en dit het ‘n ernstige nadelige invloed op die vervoer van brandstof in een van die ekonomiese kern-gebiede van die land gehad.
Oor die naweek het SATAWU, wat sommige van die werkers verteenwoordig, aangekondig dat hulle ook ‘n een dag lange staking van werkers by hawens en spoorvrag beplan.
Bo en behalwe SATAWU (Die South African Transport and Allied Workers Union), beslaan die staking ook lede van die Professional Transport and Allied Workers Union (PTAWU) en die Motor Transport Workers Union (MTWU).
Die unies het aangedui dat hulle naby is daaraan om ‘n ooreenkoms te teken om die staking te beëindig, wat die stakende werkers sal afsny van die meer algemene tendens waar werkers self teen vorige unie-belange mobiliseer. ‘n Leier van die MTWU, Dirk White, het gesê “ons is positief dat ons ‘n skikking sal bereik, want daar is baie op die spel.”
Die meeste unies het reeds ‘n ooreenkoms onderteken met die Road Freight Employers Association (RFEA) waarvolgens werkers elke jaar vir drie jaar ‘n salarisverhoging van sowat 9 persent sal ontvang. SATAWU het nie die ooreenkoms aanvaar nie, want hulle het gevra vir meer as 10 persent per jaar.
In ‘n poging om die staking te beëindig het die RFEA ‘n hofbevel verkry en die plaaslike media het berigte gedoen oor geweld deur werkers. Die dreigement van direkte inmenging van die staat word oor die koppe van werkers gehou indien hulle nie afstand van hul eise doen nie.